The sky abounds with a-priori doves.
Wherever they go,
they've already been.
The day is like a dream
...
During untypical weather on the highveld
A snow flake settled
on my eye lid -
and the glare stares back
...
(or, A Concise History of Colonisation)
Giving a name to something
is to breath life into it.
...
"I know the feeling," my friend chuckled,
going through a divorce.
"But bring those midlife woods
...
The former SADF soldier is a mercenary these days
and thus well-equipped, in a manner of speaking,
to approach the same issue from opposite sides.
...
- Midlands, of Natal, or elsewhere for that matter
Ruminating on God
one perhaps should forget
...
In parables
man calls his world into being
expanding first
within himself
...
A breeze flows across the seaside town
and a crush in the northwest
herds the grazing clouds.
...
Is dit waar ons nou is? Hiér,
reg langs mekaar, en tog so ver uiteen;
twee liefdesvoëltjies wat na mekaar toe vlieg
in 'n transmissie waarvan die sein verbrokkel
tot vier liefdesvoëltjies - en verder opbreek - 'n hele sardientjieloop
wat nimmer die ander se strand sal haal nie.
Ek is teen die liefde, die hele storie van vermenigvuldiging:
Die Vatikaan se mooibroodjiesbakkery,
sowel as die viswinkel langsaan.
Jou opgeprikte borsies flous my nie,
jy't maar net jou pantser uitgeklop.
Die metafore is soldate, die gebare almal draagbare,
en jy's 'n baboesjka-poppie
gevul met napoleons wat net al hoe kleiner word.
Stroop die vredemakers kaalgat en gooi hulle by die vensters uit,
Paasbolletjie-kant eerste! Die middelgrond traak my nie meer nie.
Kom ons breek op, laat ons die atoom kloof;
dít sal ons minstens nie in die steek laat nie, tot in die oneindigheid.
Ons soet woordjies? Dié het suur geword -
die giftige kersiekoekies van 'n versaakte voodoo-ritueel.
Al goeie hiervan is om te sien hoe die beraders
en priesters op die vlug slaan,
daardie swart poue in hul nuttelose sandale.
Ek is teen die liefde. Laat die kontinente uitmekaar dryf.
'n Nuwe wêreld maak. Nuwe ontdekkers.
'n Ander godsdiens.
Ek is teen sin. Ek is teen onsin ook.
Nou die dag nog is 'n vark se vrug
met 'n menslike spermsel gekruis.
Ek's heeltemal daar voor.
Dankie meneer meisiedemone,
mevrou kolonel vlieënde vis,
vir paddas reën op die buikspreker,
dat jy die goëlaar só moes vasketting
aan die boord se hangende lemoene;
en die gilspoke wat die Trappis gery het,
jy kan nooit 'n nagmerrie vertrou nie.
Nou moet ek weer voor begin -
was dit nodig om my Drie Apies te steel?
Poplappie Zeus, Moedertjie Son,
jy was my Pantheon gefotostateer
en deur die wind tot lewe gewaai;
nou flapper die verinneweerde tempel
die ene vlêrmuise.
Wat het van ons geword? Waar is die herinneringe?
Ons is aan mekaar se kele soos arende,
verstar in 'n opgediepte familiewapen.
Dit word somer op die hoëveld, waar ons albei woon.
Hulle noem hierdie streek die Wieg van die Mensdom,
waar die eerste mens-ape rondgeloop het.
Die geraamtes van die oertiere lê weggepak
in die kalksteen soos virtuele vleuelklaviere.
Nog 'n jaar verstryk. Die naakte savanne sing. En die weerlig flits
soos my rekenaarskerm - wat dié dokument nou bêre.
Skarrelende makelaars van die jong republiek verbeel nuwe markte
en vergruis met hulle rondgetrap die oeroue skedels.
Maar terwyl alles weer begin lewe, het ons liefde gesterf.
Kyk, tarentale kom wikkel-wikkel uit die gras in hul tjalies van grafiet.
Hulle is die poue, die donsvuurwerke, van lank, lank gelede -
wat verdof het op die retinas van ons twee se lyke.
Liefde: die verborge kategorieë,
die beskilderde deure van die heuningkatakombes.
En nou dít. Verdomp. Fokkit. Vervolging.
Tyd: 'n klip versteende aarbeie,
die piekniekmandjie wat deur 'n bobbejaan gesteel is
naby Sterkfontein Grot,
en die vermiste paartjie.
Ja dít. Móér.
Ons slaap nou op die bodem van 'n see.
Ons gesigte kyk in teenoorgestelde rigtings,
twee profiele op afsonderlike munte.
Ons hare wat kon lig op die briesie van die oomblik,
lê nou geslaan in die wind van die ewigheid.
Ons is 'n verlore skat.
Die skip het in onweer gestrand.
Maar eendag, op 'n mooiweersdag in die verre toekoms
sal twee duikers, 'n ou en 'n meisie,
verliefde skattejagters in die vlak water,
my en jou opnuut daar vind,
met hul splinternuwe lywe
ons weer opdiep
uit hierdie vergete wrak.
...
'n Paar jaar gelede beland ek een naweek
op 'n versaakte plasie, in noordoos Mpumalanga.
In hierdie streek, word gesê, kom die hoogste
frekwensie loodregte weerlig in die wêreld voor.
Die hemelruim verdonker; silwer en karmosyn -
en die pletterklanke begin. Soms slaan 'n hoë boom
in vlamme uit. My vriendin van Berlyn
was saam, ons was verliefdes in dié tyd,
en ver van die huisie toe die storm opsteek.
Sy het verlang na haar eie stad, met sy kleed van droewe as . . .
In die wandeling kon ons voel hoe die lading in ons hare
en in ons klere oplaai, hoe die granietblokke
opstapel, in 'n onsigbare wêreld.
Die grondpaadjie het gekronkel na 'n oop plato,
'n hoë grond
waar die woedende hemele al's doodslaan wat beweeg.
Die gerug, van 'n ou luiperd wat daar rondsluip . . .
Ons hartkloppe was hoorbaar, maar te laat vir omdraai.
Vroeër jare was daar 'n halfweg-hut. Peule het geritsel.
'n Blikkerige getingel, van amulette in die bome.
Verby 'n kopbeentjie wat grinnik op 'n stok.
"Jy weet daar's 'n vloek hier," sê ek; ontsenu, in 'n grap.
En net daar, vries sy: "Ons moet terug!", steek haar arm uit,
die fynhaartjies regop, die wortels wat trek; pluk aan my
en slaan voet in die wind, daardie langbeenmeisie,
'n eksotiese volstruis oor die voorvadergrond
van 'n uitgedelgde Afrika-stam, die swart verskroeide stoppelland
bloedgrond haar rok wat opwaaier soos 'n waansinnige blomkroon,
die kelkie onder wat flits. Ek agterna. Sopnat.
By die huisie
aangekom. Ons kerse het nog gebrand.
Maar die plek was 'n gemors: tafeldoek gesleep,
glase omgestamp, borde op die vloer. 'n Wilde
veldreuk in die vertrek. 'n Wind, dieper huisin.
"Maak alles toe!" skreeu ek. "Gou!" beaam sy.
Haastig sit ons die klinke op en haak die luike toe.
Die reën het swaar uitgesak. Hael en wind. Blitsende
donder. Veilig nou . . . Of nie? Daar het ons staan en drup,
met glimlagte breed soos seilbote wat te water gelaat word.
Toordery . . . in die wegvlug loop jy daarin vas . . .
En dink ek terug, het die onderdak ons nie gespaar nie.
Ons was steeds op voorvadergrond, met al sy grille.
Enige twee minnaars naak saam, is op voorvadergrond.
Die aasdier? . . . dit was ons, die mens, wat bedel om versorging.
En die weerlig?
Die laatmiddag se bliksemskigte -
wat tussen ons gebeur het met ons tuiskoms
op die oopte van die hart, waar geen mens kan wegskuil nie?
Dit was net genade. Bloot genade.
...
(of 'n Beknopte relaas van kolonisasie)
Om 'n naam aan iets te gee,
is om lewe daarin te blaas.
Van al die maniere waarop diere voortplant,
mekaar beskerm en saam oorleef
is dit die gee van 'n naam deur een
aan 'n ander wat die spesie vir ewig
in iets anders verander.
Die gee van name
is die ware oorsprong van die mensdom.
Die begin van die Skepping.
Waarom Darwin verkeerd is.
En hoekom sy kat weggeloop het.
Die gee van name is ook die rede
dat God hemel en aarde binne sewe dae geskape het.
Sewe name in 'n huishouding is meer as genoeg.
'n Daad van liefde, is die gee van 'n naam.
('n Meedoënlose daad
van onderwerping ook, maar dit daar gelaat.)
My ouers het my 'n naam gegee -
'n naam waaroor ek verdeeld voel,
wat spog met 'n koppelteken
en klaarblyklik nie minder verdeeld is in homself nie.
Maar 'n mens moet baie versigtig met jou naam omgaan
want dit behoort nie aan jou nie.
'n Naam is 'n manier waarop ander mense liefhet.
My naam is 'n stingel met blare
gepluk uit die Hugenote-diasporabossie
maar die wortels en die kroon het agtergebly.
Nou weet ek waarom daai ander digter
sy ewe bloemryke naam
in Jan Blom verander het.
Ek was reeds 'n paar maande oud,
die siekerige kaptein van 'n papierbootjie wat water trek,
my voete spartelend in hul sokkies soos stompneuse in 'n hoos,
toe pa besef my naam in die nasionale register is verkeerd.
Verskeie teoriëe bestaan oor waarom daardie ou vlugtelinge
uit Frankryk hul taal so gou verloor het:
Hulle was eintlik 'n Germaanse stam, teen hul sin geskoei en gestrik
in 'n handlanger-taal van die Duiwel wat gewitvoetjie het by die Pous.
Of, gretig om die voëltjietaal van die hemel aan te leer,
was dit louter plesier om aardse gebrabbel af te skud.
Skaars het die stof-engeltjies in die pad gaan lê
of die ou voetslaners vergeet hoe om hul eie name te spel.
'n Mens kan die nuwe wingerd nie vertrou nie,
en ook nie sy Nagmaalbeker nie.
Maar my pa was 'n ingeligte man:
hy sou die probleem vir ewig regstel.
Die setlaars van Afrika doen mos alles verkeerd . . .
Tog, nooit te laat om 'n fout reg te maak nie.
Toe klim hy in sy Willy's Jeep om die honderd myl of so
na die hoofdorp van Oos-Griekwaland aan te durf -
waar hy streeksdokter was en die mense hom
met hoenders en eiers betaal het - deur die vlae sneeu en reën
en verdwaal in die kruipende mis, sy liggaamsdele
wat stuk vir stuk voor sy oë verdwyn, terwyl die Jeep
deur die modderkonfyt kreun op 'n mitiese reis.
Die toegegooide landskap het onophoudelik
onder die skopgraaf van die ruitveër geknipoog,
in die verwisseling van sneeulae op die ruit.
Dit was 'n beginselsaak dié, 'n kwessie van jouself-ken:
Sy seun se naam moet die oorspronklike spelling hê;
nie soos dit nou daar staan, 'n deel daarvan
onder die wawiel vergruis, 'n ander deel net skoonveld.
Nie goed genoeg nie. Tyd vir bestekopname.
Geen halfgebakte naam vir sy spruit nie.
Tyd vir geheue, nou. Vir liefde om betoon te word
op die behoorlike manier. Hy was dierbaar, my pa.
Maar die poging het misluk.
My naam nog meer verkeerd gespel,
meer Afrikaans, selfs meer verbaster.
Verder van sy wortels, nog verder in die toekoms.
Meer homself as wat enige een kon vermoed.
Die ‘es' van die Franse Charles - soos in Charles Baudelaire
sal ek my verbeel,
nee, om presies te wees Charles Pierre Baudelaire -
was steeds soek en is nooit weer teruggesit nie.
My naam sou net Charl bly.
Eenvoudig, gesinkopeer.
Miskien het die akkedis geskrik en sy stert verloor,
wat toe deur 'n sangoma opgetel en gebottel is.
En die koppelteken van al daai vervelige ou Jean-Pierres,
die piepklein voeghoutjie gemaak om 'n klinker
aan sy opvolgende medeklinker te verbind, dié eindig in my naam.
Dit moes 'n aardbewerasie gewees het
wat die splinterhoutjies en die spaghetti-alfabette
oral in die land so opgeklits het
juis op die moment
toe my pa sy hand in die naamfles steek.
Ja nee, dis nooit anders nie.
Dis presies wat gebeur het:
Dieselfde soort aardskudding het by geleentheid
ook ander belangrike name en gebeurtenisse deurmekaar geskommel.
Kyk wat dit gedoen het aan Genghis Garibaldi,
die man na wie Guy Fawkes vernoem is.
Of die arme Hendrik VIII, ses keer onthoof
deur sy aaklige vrou omdat dit die eerste maal nie
en ook nie die tweede maal gewerk het nie, ensovoorts.
Of die Indiese keiser wat vir sy gestorwe vrou
daardie pragtige mausoleum, die Vatikaanstad, gebou het:
'n mens kan altyd die geslagsdele vertrou
om 'n asembenemende konstruksie op heilige water te laat dryf.
En moenie die Eerste Lateraanse Konsilie vergeet nie,
een van die somberste modeparades van aandrokke ooit
en heeltemal onbelangrik weens die selfontkenning
inherent aan dié bedryf,
waarna menige ongelukkige siel
ontdek het sy het die liggaam van 'n vrou.
Ek het nogal lig daarvan afgekom.
My naam is verkeerd gespel
maar op die regte manier.
Jy hoef dit net te vergelyk
met ander weergawes om te sien dis waar.
Die oorsprong daarvan lê nie
in die verlede nie, maar in die toekoms;
in 'n woordeboek wat nog dryf in die buiteruim,
sy thesaurus reg langsaan - volgens astronome.
'n Jan en 'n Jaap,
twee broedersterrestelsels,
twee drag queens:
'n meisie in dieselfde ontwerp geklee
maar vir 'n ander seisoen.
Die toekoms:
wortels wat in die lug rank;
my naam is 'n boom wat in die grond geduik het.
Daardie koppelteken sit nou
soos 'n pleister oor my neus.
Ek loop weer die kombuis binne.
Ek is 'n klein seuntjie.
Na waar Mamma staan.
Waar sy steeds staan, in die herinnering.
Sy vryf die pleister sodat dit kleef.
Dis ons twee se geheim.
Ons gee albei voor.
Ek het dit toe geniet,
waarom sou ek nie nou nie?
Ons glimlag vir mekaar,
my ma en ek.
Netnou, oor 'n rukkie
sal my pa by die huis wees.
Ek kan nie wag nie.
Hy sal langs my kom hurk,
sy mond tuit en versigtig
die strokie op my neus ondersoek.
Dan sal hy my vra wat verkeerd is.
...
"Ken die gevoel," grinnik my vriend, besig om te skei.
"Maar bring jou ‘donker woud van Dante'
Karoo toe, hier sal jy weer jouself vind
waar die half-woestyn 'n groen vou maak
met sy huidhandskoen binneste buitetoe."
Iets in dié trant, my poëtiese vriend.
Ek luier die vallei af en en ry die dorpie binne,
wat weg lê, op die vloer van 'n prehistoriese see.
Verby 'n ou wa wat sak op sy as.
Die motor se kopligte skyn op 'n wilg,
'n reuse planteluster wat hang in die draai
en pulserend straal: een van die Groot Vyf;
op die memento'tjie van 'n kerk, sy vlermuise
en uile 'n oomblik lank opgeskud - 'n sneeubol.
'n Plek van wortels, waar die horlosies gaan staan het
op 'n vergete dag in die verre verlede.
"Vreemd," sê ek.
My vriend haal sy skouers op:
"Dis maar die uur hier vir mense om na
die horlosie te kyk. Niks is onverklaarbaar nie."
'n Geil kleim vir paleontoloë, vertel die dorpenaars my -
van die rykste rotsbeddings soogdierfossiele ooit,
so oud soos die dinosaurusse. Afgeknotte stukke ou dierasie
losgewrik uit die klip word aanmekaar gehou met hegdraad
en vuurhoutjies sper die kakes oop, in 'n mini-museumpie.
Sê my vriend: "In 'n week's jy weer in een stuk.
G'n wroetende sielkundige vir hierdie dorp nie."
Dae gaan verby. Die sinkdak trek saam, sit uit, smak -
spookdruppels oerreën wat klop in die silwer.
"Gehoor voor my vertrek my oupa is hier gebore," sê ek.
Hy't die vallei vir die eerste keer verlaat toe hy agt was, op 'n ossewa,
nogal oud om op te staan - vir die eerste maal -
uit die seevloer van Gondwanaland.
"Tyd," sê my vriend.
" . . . was 'n ander storie, daai tyd." In elk geval,
nie lank voor daai tyd, of miskien daarna, het die Boere
'n oerstam geelmense hier gejag en uitgewis.
Mens hoef net na die name in die begraafplaas te kyk
om te sien wie nie werklik hier gesterf het nie.
"Wetenskaplikes glo deesdae dat tyd 'n illusie is - 'n konstruk
om die onmoontlike draaglik te maak," sê my vriend:
" . . . Dat die verlede en toekoms gelyktydig gebeur."
"Sou dit dan beteken daai uitgedelgde Boesmans . . .
is vandag steeds met ons?" Ons lek ons vingers. Lam van die Karoo.
"In ons midde. Net heeltemal onsigbaar," (sê my vriend). -
In die townshiphuisies, anderkant die groot skeidslyn . . .
'n Dorp middel deur - soos ek, deur my lewe.
En oombliklik stel ek my die tydlose toneel voor: die breë stofstrate,
gepakte klipmure, doringbos wei, onder voortydse water.
Op hoër grond my oupa, tydloos nou, in diepe gesprek
met die San opperhoof. Ou vrinne, belangstelling: die ewigheid.
Ook ek en my vriend, geen baardsteek ouer, besig om die wêreld
se eerste vis te vang, saam met die chief se dogters, nes eergister.
Die lam en die leeu. Wetenskap, wat die Bybel ontmoet.
Louter paradys. Ek voel sommer "in een stuk"
en slaan nog winderdmedisyne weg: "Sien jou môreoggend."
"Ja," sê my vriend; staan ook op en, asof hy my lees:
"Die fossielmuseum, 'n kraamsorg-eenheid." Ons lag.
'n Vertroostende gedagte, dat almal wat in die vallei
in vergange tye geleef het, steeds met ons in die hede is.
Ek klim in die bed. Die nagte hier is goed vir my.
Dis miskien wat bedoel word met "integrasie van die gees".
Behalwe vir hierdie drome wat ek kry.
Dit kan onmoontlik my eie wees.
...
Die man wat Livingstone gesien het, was feitlik reeds blind.
Hoe lank gelede het hy Afrika ingestrompel - die 1850's, 1860's?
Livingstone en sy geselskap, hul muskietnette
en hul houtkiste, die groot verkenner wat kort daarna sterwe?
Leeftye terug. (Moeilik om sy jare te peil
volgens 'n koerantberig van die vroeë jare sestig.)
Dus is die ou man, wat toe hy kind was, Livingstone gesien het,
op die hande gedra deur sy mense, deur vreemdelinge ook:
'n nasionale kleinood, 'n rondreisende museumstuk.
Sy ululerende stamgenote het hom in 'n omgeboude kruiwa
van dorpie na dorpie gestoot, vooruit en agterna in 'n eindelose
kronkelgang al met die spoor langs in die nou modderpaadjie,
af deur digte bos, van oopte tot oopte, nie sonder ongevalle nie,
vir myle en myle en dae sonder ophou, die ou man wat geduldig
in sy ysterkoppie dobber, oë omgedop, bene ingevou.
Of hy sou in 'n dorpie aankom in 'n sykar vasgebind aan 'n tandemfiets,
wat deur twee getrap word, sy gevolg wat saamdrom en op fluitjies
blaas en toeters druk terwyl ekstatiese dorpelinge die stofstraat vee
vir die aankomende optog, met palmblare en strooibesems.
Soos die dag toe Livingstone self deur die skare
in Londen verwelkom is, stadig op sy pad na Buckinghampaleis.
En die nuuskieriges daar, van heinde en ver, om hul respekte te toon.
Om oopmond te staar na die enigste man nog lewend -
nou kinds van die ouderdom - wat die beroemde pionier
met sy eie oë gesien het op 'n bepaalde môre in 1870
van agter 'n struik, binne hoorafstand van die Groot Water:
hoe hy rigting vra in ruil vir wierook en koper.
Hoe vreemd om te aanskou, 'n deurskynende reisiger,
heeltemal van siel gemaak, 'n mens sonder 'n lyf!
Sy voete word gesoen, die omgedopte lepels van sy ooglede betas
ná 'n fooitjie by die deure van die gemeenskapsaal.
'n Historikus van Europa het gekom om notas te maak:
iewers in dié fossiel skuil 'n eerstehandse ervaring,
'n lewende prentjie, van die grootse Livingstone.
Die kenner het die ou grys kop gekantel soos 'n towerlantern
en diep in sy oë getuur vir die ontwykende geheuebeeld.
In die skadudans van blare wat deur die venster oor sy gesig speel, ja daar:
die avonturier, wat wild beduie; sy draers die pad vorentoe wys.
Die woerende dakwaaier se skaduwee-flits, helder soos daglig:
'n voël wat verby swiep, net toe hy uitvra oor die Waterval.
Die oue was nou vinnig aan die kwyn, honderd-en-twintig jaar oud.
Al van hom nog oor, was daardie prentjie van die pionier.
Is 'n honderd-en-twintig jaar oue
dan nie 'n pionier nie?
Op 'n draagbaar het hulle hom uitgedra, een man voor
en een man agter, en hom langs sy houtkis neergesit.
Nie die einde van die reis nie, net 'n blaaskans vir die draers . . .
En so het hy Livingstone, selfs Marco Polo geword,
'n adellike op sy draagstoel oor die verste voorpos
die Oneindige in, 'n ontdekker
van die suiwerste water.
...
Die voormalige SAW-lid is deesdae 'n huursoldaat
en dus goed toegerus om by wyse van spreke
dieselfde saak van twee kante te benader.
"Dit was einde van die reënseisoen in Mosambiek,"
vertel hy, op die hoë plato waar hy nou veediewe jag.
"Bleek gordyne water het nog af en toe uitgesak;
die vernietigendste fase van die oorlog was afgelope.
Sagte rompe van die uitgeroeide bos en van mense ook
het in die klam grond en moeraslande lê en gis . . . "
'n Sweempie verrrukking, miskien ootmoed, in sy stem.
" . . . Ek was op roetinepatrollie
in 'n verlate gebied
toe ons op 'n eensame figuur langs die pad afkom.
Hy was haastig en vasbeslote op pad iewers heen,
'n kalbas of iets dergeliks wat bengel aan sy arm
en het sy hande liggies voor sy gesig geskommel
elke nou en dan, en in sy palms geblaas.
Tog is dit nooit in die jaar daar koud nie;
asof hy stop, en met 'n dobbelsteentjie speel
om 'n rukkie te rus op 'n baie lang sending.
Op sy rug: 'n sinkplaat; 'n koker houtjies.
In die verbyry het dit gelyk hy prewel by homself,
en onbewus van ander
skielik op sy knieë val.
Die oorlog het vele vorms van waansin geskep . . .
'n Oomblik later loop hy verder, meer verbete,
in die verte weer op sy knieë, toe ek vlugtig terugkyk.
Een van die ouens in die pantservoertuig het haastig die kruis
geslaan in aanskoue van wat lyk na Ave Marias:
die wyses van 'n bestemming bereik, is bra beperk . . .
Twee dae later op die terugpad kom ons hom weer teë,
vyftig kilometer noord van die eerste ontmoeting.
Ek het gewonder van hoe ver suid hy kom;
met wie hy so knaend en so liefdevol gesels
in die oopknip-medaljon van sy hande.
Sy liefling?
Vele het in die oorlog ál hul geliefdes verloor.
Ek onthou hom in sy spore vassteek, om die lug in sy palms te wieg,
miskien 'n klein diertjie, dag ek, 'n marmotjie, eers in sy kruis
en toe in 'n oksel te koester, teen 'n skielike opwaai van die bries.
Ek het nader gestaan, na waar hy hurk in die kruispad;
hom ‘Amper daar, amper daar' hoor fluister
in sy bakgemaakte hande. Ek maak uit van sy taal.
Hy't doodbang gelyk toe ek langs hom kom staan.
Die locals vermy soldate en praat nie eintlik met hulle nie.
Die ander in die Unimog het vir die malle gegrinnik.
Toe vra ek hom om my te wys wat in sy hande is.
Hy't sy geëelte palms huiwerig uitgehou.
Dit was 'n brandende kool.
In sy verwoeste nedersetting was nie meer vuur nie
en die lot het op hom geval om dit te gaan haal
in die naaste buurdorp, tagtig kilometer ver.
Hy het koeëls getroef en sy lewe gewaag om die gevlerkte vlamkuiken
van 'n ingestorte kroonlys af te skep, in 'n kerk wat onder skoot gekom het.
Snags sou hy rus, 'n vuurtjie maak; die môre weer verder
met die beste kole in sy erdepotjie,
en saans die skof eindig met enkele kooltjies
wat hy een-een aanblaas, en lig uit 'n jakkie as.
Dit het hy aan my gebieg, in 'n vreesbevange toon
met 'n verslane blik, soos voor 'n militêre ondervraer.
En ek kon my voorstel hoe hy wakker slaap, opgekrul
langs sy ademende toevertroueling in haar windsels eie gloed,
verlief op die vraggie bene in haar toornige nagrokkie.
Ek het hom voorspoed toegewens en sy skouer 'n drukkie gegee
terwyl hy weer in sy hande blaas,
die wieke instoot onder
sy klein godin, die kosbare troeteldier: Prometeus se vuur."
...
Die trappe na die solder kan my nou nog verruk.
Waar rakke raaisels uit kindsdae span en die smal,
helder luik aan die ver ent se guillotine soms val
dat vere uit die skemer sak, en die skrik
al's 'n oomblik laat skarrel, het ek weer
gestaan: geboë. Ou deure waardeur niemand stap
en verroeste rame wat nie sluit of klap nie
het eenkant gelê, kettings, reistasse wat verweer
in die geheue. Van nêrens het 'n bries gepluk
deur 'n jeugboek. By 'n vuurhoutjie se flenterlig
staar 'n skadu-gesig, vol skynroet, armoedig
na my terug uit 'n óú spieël, halfvergete.
‘Die solder spook,' het Ma gesê. Ek moes so terugkeer
na onder, 'n half-swarte, vanuit die gewete.
...
Miskien, toentertyd,
was daar tafels gedek
by Stonehenge:
kliptafels
met godewette op;
'n banket
van smeulende offerandes
in geplette bordjies
wat rondgedra is
in 'n kring van feromone
- soos popliedjies
wat rook uit 'n samekoms-met-handradio's,
van die maagde.
Die windjie slinger
en neurie deur die gras,
soos borduurwerk sou
met some langs,
en die skielike weerlig
moker alles soos 'n neusbrug
in, tot ín die tydlose skerwe
van die erdewerk;
waar argeoloë
duisend jaar later 'n prentjie bymekaar skraap
van ene Pete Townshend,
van The Who.
(....)
Min sou mens dink dié formule
het Afrika toe gehink
oor die tydelike vlaksee -
of was die rigting andersom?
Dáar
sien ek die tiara,
die halfsirkel-waterval
by Victoria,
wat al hoe dieper in die aarde sink,
en skitterend na binne kolk
sonder om iets
sogenaamd koninklik en verswelgend na buite
uit te vaardig.
(...)
Ek staan langs dié heelal
van malende druppels
waar 'n sproeiing
van moontlikhede dryf
soos stuifmeel bo die vergetelheid
en ek gooi twee klippies af.
Een: Wat is beskawing?
Twee: Waar lê ons oorsprong?
Die orakel eggo terug:
"Eindeloos.
Nóg kant nóg wal:
in 'n werweling
weens die onbeslisbare beroerings
van suurstof-met-water."
En só sien ek,
onbemiddeld,
die helder oplossing.
...
- Middellande, van Natal sowel as elders
Om oor God te dink
moet mens dalk vergeet
van die groot waarheidskoepel
of die omvattende wand wat alles omsluit.
Beter om te soek
na die wink
van die klein-klein skeur
in 'n rotsformasie of diep in die brein,
waardeur lig van binne af ánders deurskyn.
Die ligte
wat sonderling en oombliklik verdwyn op water,
of die senuhaartjie in 'n binneoor,
een van die tallose
wat net-net nog lewe in 'n lyk,
bevat dalk 'n bepaalde soort ewigheid
wat groter as die heelal
en bepaald ánders goddelik
en bestaansgewys verwikkel is
as die aardbol,
wánt binne-in sy eie matesis.
Élke flitswêreld het sy grootse katedrale.
Elke dwarrelbries dra sy blare
soos die matte van 'n ou beskawing.
Die singende luik wat oopmaak op onvatbare tesisse
is die pas verbleikte verledetydkeuse.
Om (byvoorbeeld) te kies
vir die wonder
om met minder omring te word:
Dis jou verjaardag, en jou geskenk is
een ding minus, wat die somtotaal
van een meer is.
Jy kan nie wág vir die herfs nie
as die bloeisels uit die knop breek;
en jy sien uit dat niemand kom kuier nie
sodat dae wat onvergeetlik was, onbelangrik kan bly.
Om nie vooruit te gaan nie,
uit liefde daarvoor!
Die deurtjie verbloem
agter die skildery wat nog ongeskilderd is
maak oop op 'n trapstel
wat oploop na 'n praalkamer waarin minder
as niks is, jy moet dit net vind -
wat daar is
net vir joú om die rame op die veelkleurige mis
molekules
(gasruimteskepe)
oop te gooi teen 'n onverwagte skuinshoek
sodat protone en elektrone kan inswerm en plons
en aanklots soos vlermuise, soos waansinnige pluimbalballe
opgeskud uit die ademend deinende, vlooibespikkelde vangnet-
met-sterre buite jou venster.
En dis maar een
van vele heelalle uit die einderlose na binne
en buite werwelende patrone
op God se mou; nee 'n baie klein mougod sélf,
wat aankom uit die wapperende klusters pouoë
van wandelende Paisley
en kolkende wolkestelsels
in die domein van die ongedinkte.
Ek onthou nie meer
hoe ek deur die kier geglip het nie,
deur 'n kraak in die pleister;
of 'n wêreld deur rook gesien het, waarin alles seismies swem
soos van voor ons dit tot vastigheid gedink het -
kriewelklein is die mens
en sy vertolkings
op 'n handpalmgrootte stukkie eindeloosheid;
op 'n weerkaatste ruitjie
skaats hy deur die ruimte.
Ek stap toe deur 'n woud spierwit berke,
tydloos versteen in 'n dooiewinter;
en die enigste monoliet
wat nie groter as die ander was nie
en dus die grootste,
is Niegod genoem;
al vier seisoene was gelyktydig aanwesig:
kaalkeiserskille wat voortdurend
in die naam van die weifelende lig vervang word
en oor 'n hele dooie aarde strek
terwyl die sjibbolet - volstrek die enigste
(dus wat nie lote maak nie)
wat 'n gees tot hierdie namaals kon toelaat -
Takbok! was.
'n Waas muggies dans in die somerskemer op 'n stoep,
'n kolletjiesproei
wat homself in vorme hekel;
daar hang dit oor die rietjiestoel
soos 'n ou man wat opstaan,
en daar oor die koel plaveisel "stap" dit
soos 'n jong ma wat haar babatjie sus.
Dit warrel in die gestalte van Ovidius,
en vervloei tot 'n boom, 'n voëltjie,
of 'n godheid met 'n boodskap.
Die muur met sy ingemesselde rivierklip
loop lui langs die mirt, soos 'n gekolde luiperd.
God, mens, ding:
wolke wat voortbeweeg teen verskillende spoed.
...
In gelykenisse
bring die mens sy wêreld tot stand,
brei hy na buite uit:
eers homself ín homself
(die voet lyk mos op die hand),
en daarna word die heinings in pale voortgeplant.
Die blinkertjies wat hy pis
om sy reis aan te dui, of in die bome hang
om sy perk af te merk,
weerspieël naderhand mekaar
soos 'n skool visse sigself,
sou dit oor die aarde loop:
Dis moeilik om te sê waar die oorsprong lê.
Hier kom die wiel,
loshande,
soos die seisoene wat nooit ophou aanrol nie,
in vier kwarte opgedeel soos buurmanne
wat mekaar nodig het, en dus van die siel,
by verstek, 'n simbool is.
En die gode uit die bergstroom getap
en oorgeskink
in volkome ongelyke en klingelende emmers,
wel, dís mos iets wat 'n verklaring kan bied
vir ongemaklike dinge.
Voortaan sal 'n kwatryn
volgens voorskrif van Bo
met let-ter-gre-pe ploeë,
en vier sye hê nes 'n dorpsplein.
En die tweeledige koeplet?
Dis 'n bok wat nog sy horings het
maar hom darem kan gedra
en deeglik hou by die burgerwet.
Die ritmes
van opgediepte Romeinse en Griekse teaters
het moeilik gerym
met "windmeulens", "unie" en "bond";
was wel verstaanbaar:
Voeg net water
terstond by
en sit die baksels in die son, verdomp.
Die reëlmaat en funksie van gedigte
(dryftuigies met vane, wimpels-met-kielsuig)
het verander toe dit na Afrika gekom het.
(Siestog, 'n verskeepding genaamd die villanelle -
vyf spane links uit die Pentateug
en vier regs genoem die evangelies
- God! alewig die getel -
hoe hinkepink het die mensdom
oor die waters geloop, mens kon sweer
dit was geloof.)
Die epos, 'n ossewa
wat in die ou dae die kosmandjie huis toe gebring het,
was op die nuwe vasteland 'n stamelkas
wat op bergriwwe strand,
en moes aangepas word.
Wildernis, bosse, die onmeetlike. Daar word lukraak van afgekap. Wa-
wag. Lyk my hier's bietjie deurgetraptheid, ja-
ja: 'n paadjie
en pale met maskers op
langsaan geplant. Wat beteken dit? Goddank,
'n ooptetjie en,
jou werklikwaar (gerugte al gehoor),
die gevaarlike stank: 'n giftige, vleisetende,
lieflike
inheemsblom,
en wat is dit wat daar uitsteek - bo die kroonfrille -
voorwaar
my eie kop
...
Daar trek 'n windjie oor die baaidorp
en die weiwolke in die noordweste
word in 'n drukgang gejaag.
Onopsigtelik is dit,
hoe die boodskappe aanmeld,
van die uitwis wat kom.
Allereers, net geluid: ver windgeruis
en die angstige gekletter van voëltjies by 'n bak,
die tink-tink van 'n stukkie metaal.
'n Fietsklokkie in 'n binnehoffie,
gestreel deur die bries,
kla sag
soos 'n baba se rammeltjie
in die beskutting van 'n hals.
En skielik
is die son weg. En alle kleur word flets.
Die wind vlei sterker aan, nukkerig. Smyt
'n mandjie spatsels, uit die bessieboom gestroop,
teen 'n muur vol ou vlekke uit.
En die groot hond gaan lê plat
en ootmoedig, bidsnoet op die grond,
soos 'n sprinkaan.
Dan kom die reën, skielik,
in opgeskrikte vlae
wat die vlees kasty soos klitsgras.
En daai orkes is ook hier, wat in dinge slaap;
subatomies, én omvattend.
Kineties besielde Von Karajan'tjies
ontwaak soos baboesjkapoppies
in die ruimteskippies
van die rondbliksemende akkertjies.
Met en 'n donderslag
val 'n klavier uit 'n boom
en lê die houtsparre oral rond.
Dit reën. So moeilik om reën te beskryf.
Omdat reën verbygaan? Omdat mens
daardéúr kan sien? Miskien altwee.
Maar ek kan probeer.
Die berging van herinnerings.
Die volgende onthou ek: hoe ek staan op die rand
van 'n vallei wat voormalig 'n opgaardam was,
en sedertdien drooggeloop is.
En, skaars sigbaar, daar vér onder
is die hopie klip van 'n vervloë huis
en die duidelike omtrek van 'n buitemuur.
En klippe, ingemessel teen die oorkantste helling,
sê: God seën.
Mens kan probeer:
Vannag sal die reën om ons flapper
soos die muskietnette van Neptunus
in die stroom van die vergetelheid.
'n Gróót verhaal, van gode en mense, gaan sterf
want dit word deur die tye aan flarde geslaan.
En die somer het nog skaars begin...
In chaos word geskep
en in ligtende chaos herskep.
Nou stormreën dit. Reg voor háár,
op die oumensoord se stoep,
Tant Min van die plaas
wat nie meer bestaan nie,
wat die vlieënde pierings in die laatmiddag soms sien
as tyd en tydloosheid saam
uit die hand van die Here val,
tol drie wasskottels met eende op geverf
met 'n geskal in die straat verby,
gelig uit 'n tuin
en meedoënloos daar uitgejaag
deur die musiek van die sfere.
...
Charl-Pierre Naudé is a poet, prose writer and essayist, and lives in Johannesburg, South Africa. He has published three volumes of poetry in Afrikaans, one in English, and a second English volume is underway. His first novel will appear shortly. Naudé has worked as a journalist, editor, freelance literary critic and book reviewer. He has published in notable magazines in the Netherlands and in South Africa. In Germany some of his latest work has appeared in Schreibheft 84. He has often read at international festivals. In 2014 he lived in Berlin on the Artists-in-Berlin Program of the DAAD.)
Morning and dusk with doves
The sky abounds with a-priori doves.
Wherever they go,
they've already been.
The day is like a dream
wriggling in the air
when plucked with one hand
from the flickering stream.
And, then, its glitter dims.
The houses on the ridge stand bleakly etched
in the early light like scale drawings.
And the sky abounds with a-priori doves
today, or maybe
it was yesterday.
By contrast,
post factum owls inhabit the night.
They take flight
and with their bromide brushes
paint the present tense brown -
the immediate act
discolours to rust.
Do you recall the footfall in the empty house?
"People of former times ..."
"Maybe just ours."
The light sifts through
the slat blinds and mounts your body
like the eye spots of a moth's wings,
in musical scales;
under summertime spray
the polkadot burgeons
in the bikini arbours.
Brimming like new preserve jars
are the dimensions, standing in a row.
The pristine planes ignite choirs
in the honeycombs
on the inclines;
and the ash crashes
in numbers.
They sky darkens with a-priori doves.
And all time is translucent
like a bicycle
against the light.
Translated by Charl-Pierre Naudé